Markus 2: 1-12
In Kapernaum is Jesus besig om die mense in ’n huis te leer. Die huis is propvol mense, hulle staan by die deure uit. Vier mense kom aangeloop met ’n verlamde man op ’n mat en hulle kan nie by die deure inkom nie. So klim hulle op die dak en maak ’n gat tussen die riete en modder deur om die man by Jesus te kry. Toe Jesus die geloof van die vier manne sien, sê Hy vir die verlamde man dat sy sonde vergewe is. Onthou dat die godsdienstige denke van die tyd siekte, gebrek of enige abnormale gesien het as straf van God op ’n familie. Jesus verlos hom van daardie stigma, en dan van sy gebrek.
Jesus spreek God se vergifnis oor die man uit. Natuurlik mag Hy, want Hy is God se Gestuurde na ons. Die godsdiensleiers wil hê die man moet die regte reinheidsrituele volg: ’n besoek aan die priester en die regte offer wat gebring word. Jesus wat sê dat die man se sonde vergewe is, klink vir hulle soos godslastering – iets waaroor God alleen kan besluit. Dis juis hierdie aanklag wat uiteindelik lei tot Jesus se skuldigbevinding en kruisiging. Jesus verklaar eers die man se sonde as vergewe, en dan genees Hy hom. Jesus bewys sy mag om mense geestelik, emosioneel en fisies te herstel. Hy is Immanuel – God met ons. En die eer gaan aan God!
Jesus kom om alles wat ons van God skei af te breek, of dit nou sonde is wat ons weghou van God af, of mure wat ons self opbou wat ons weghou van God af. Hy gaan oor al die grense heen wat hulle en ons stel, omdat mense baie belangriker is as wat mensgemaakte reëls of mag of geld of enigiets anders ooit kan wees. Jesus is gestuur om mense te kom herstel, te bevry van die las van sonde en skuld, en om vir ons almal die lewe te gee wat Hy in oorvloed aan ons wil gee.
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei