Spreuke 4: 23

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

In ’n vorige gemeente ry ek een middag na ’n bandeplek om vir my kar nuwe voorbande op te sit. Hulle waarsku my toe dat dit ongeveer een en ’n halfuur sou duur. Ek sit toe maar deur ’n tydskrif en blaai tot een van die mede-eienaars my roep en na sy kantoor toe neem. Jy’s mos ’n dominee, sê-vra hy. Hy wys my toe ’n bundel dagstukkies waarmee hy besig is. Ek kon sien hy is ’n toegewyde Christen. Hy blaai na een spesifieke dagstukkie wat oor dankbaarheid handel. Die opskrif in Engels: Think thanks. Agterna sê ek die Engelse woorde, think thanks, vir myself en dit wil-wil my tong knoop. Eers na ’n paar keer se sê begin die woorde vloei. Die Afrikaanse ekwivalent, dink dankie, voel ook aanvanklik vreemd, maar dit steek vas en word deel van my lewensingesteldheid.

Die oop graf wat Jesus na sy opstanding agtergelaat het, bied alle rede vir verwondering en dankbaarheid. Ons is mense van die oop graf wat met ’n opstandingsgesindheid leef. Ons hele lewe moet van ’n opstandingsgeloof deurspek wees. Tekste soos Wees altyd dankbaar (Kol 3: 15c), Wees in alle omstandighede dankbaar (1 Tess 5: 18), en Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! (Fil 4: 4, AFR2020), herinner ons aan ’n dankbare lewe. Die Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 1 verwys ook na die groot dankbaarheid wat op verlossing volg.

Die skrywer Ann Voskamp se boek One thousand gifts: A dare to live fully right where you are, inspireer ’n mens om op dankbare, dankie-sê-dinge te fokus. Om jou gedagtes te programmeer, weg van ’n onvergenoegde, onvervulde lewe, na ’n dankbare lewe. ’n Lewe waarin jy seker maak wat in jou hart omgaan omdat dit jou hele lewe bepaal.

’n Opstandingsgeloof verander jou hele lewe. Doodsdinge is nie meer die einde nie. Die oop graf oorheers. Die dood is dood en die angel is uit die dood gehaal. Dink dankie!

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap