Markus 14: 46
Jesus kom na die aarde toe met een doel voor oë: om die mense weer van voor af bewus te maak van die koninkryk van God. Jesus kom aarde toe, na die mense toe, tussen die mense in, om die koninkryk van God aan hulle te verkondig. In die verkondiging van die koninkryk word siekes gesond gemaak, gelykenisse wat die mense verstaan, word oor die koninkryk vertel, en dié wat honger is, word gevoed.
Deur die verkondiging heen weet Jesus die heeltyd wat die pad vir Hom nog inhou. Jesus weet wat die wil van sy Vader is. Jesus weet baie goed wat moet gebeur in die naam van die koninkryk wat Hy kom verkondig het. En dit gebeur presies so. Jesus gaan na die tuin van Getsemane toe om daar te bid, en dan lees ons dat Hy doodbenoud is en vir die dissipels vra om saam met Hom wakker te bly en te bid. Jesus bid dat die beker van lyding by Hom sal verbygaan, daardie beker van die wil van God se koninkryk. Maar bo alles, bo sy eie gevoelens en menslike emosies, weet Jesus wat alles nog moet gebeur sodat die wil van God kan geskied, en dit gebeur so.
So kom Judas nadergestap met ’n groep mense agter hom, gewapen met stokke, spiese en swaarde. Hulle arresteer Jesus en neem Hom weg soos wat hulle ’n baie gevaarlike krimineel sou wegneem wat skuldig is en wat wil weghardloop en terugbaklei. Maar Jesus hardloop nie weg nie en Jesus baklei nie terug nie. Want dit is die wil van God wat besig is om te geskied: Jesus moet gearresteer word, die pad van lyding moet geloop word, die kruis moet geplant word, die bloed moet vloei. Jesus leef elke oomblik volgens die wil van God, vir my en vir jou. Jesus leef tot in die dood – ja, tot die dood aan die kruis is Hy gehoorsaam aan die koninkryk van God (Fil 2: 8), vir my en vir jou. En Jesus doen dit met liefde, vir my en vir jou.
Ds André Steinmann, Piet Potgieter
