Eksodus 3: 1-5

Die Bybel het in die verlede plaagevind, maar die evangelie gebeur nog elke dag in ons lewe. In Latyn is daar die term Viva Vox Dei – wat letterlik beteken die lewende stem van God. ’n Lewendige stem in die Bybel in elke gelowige mens se lewe. Met ander woorde, altyd ’n gesprek hier en nou, nie noodwendig net in die verlede nie.

Wie staan voor die bos? Watter mens sien ons? Wanneer ons in hierdie gedeelte na Moses kyk, sien ons nie die bekende leier van die volk van Israel nie. Ons sien eerder ’n afgeleefde man, ’n grysbaard wie se beste jare agter sy rug is en nie voor hom nie.

En dan kom hierdie Viva Vox Dei – die stem van God uit die brandende bos. ’n Mens hoor sommer hierdie dreunende Vaderstem uit die brandende bos. Moses! Moses! En hy antwoord: Hier is ek.

Vir Moses is hierdie stem te min en te laat… Ons soek nie nou ’n God of ’n stem van die verlede nie. Nee, ek smag na ’n Viva Vox Dei! Na ’n lewende stem van God! ’n God hier en nou in my eie omstandighede. ’n God wat my gesprek hoor, wat my versugting hoor, wat my seer en my worsteling en my spanning en my stres hoor. Waar is U, Here? Waar is die lewende God?

Dan praat die stem weer. En dié keer kan ek my voorstel hoor Moses nie ’n harde stem nie. Nie ’n Vaderstem nie. Eerder ’n sagte stem, ’n fluistering. ’n Moederlike stem… Amper soos in Psalm 131, klink die stem soos dié van ’n ma, en ons hoor nou ’n ander gesprek: van ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid vind.

En wanneer Moses dit waag om te vra maar wie praat nou? kom die antwoord sag van ’n Ma: Ek is! (’n God wat hier is, nóú is). En wat sê die stem nou? Moses, Ek het nie van my mense vergeet nie! Ek gaan hulle bevry…

Dr Hein Delport, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link