Lukas 24: 36-49 (AFR2020)
Die dood, op sy tyd, is deel van ’n veel dieper gebeurtenis. Ons doen alles in ons vermoë om hierdie ongemaklike waarheid te vermy – dat ons lewens tot ’n einde gaan kom. Alles wat ons doen en sê, is ’n poging om die dood te vermy, die finaliteit te ontken. Tereg mag jy só die dood ervaar, en probeer vermy. Ons het nie meetbare kennis van hoe die lewe na dié lewe is nie, en die dood is die muur wat die lewe skei. Ons kan waarlik nie die omvang van die dood verstaan nie. Dit mag voel soos ’n muur waaroor ons nie kan loer nie.
In Christus se oorwinning verloor die dood sy angel, leer ons by die apostel Paulus. Wat vir ons tot nou toe onoorkombaar gelyk het, word nou ’n moontlikheid tot ’n ander lewe; wat tot nou toe na ’n goeie rede vir vrees gelyk het, blyk nou ’n rede vir hoop te wees. Die finaliteit van die dood (die muur) word in Christus vir ons oorkom (die opstanding en die lewe). Soos Jesus aan sy dissipels verskyn het, en hulle laat besef het Hy is waarlik die Here, so verskyn Hy ook aan my en jou vandag. Hy maak ook vandag jou verstand daarvoor oop.
Skielik kry die muur ’n deur. Waarna die deur lei, kan jy nie met sekerheid sê nie, maar iets verander in jou wanneer jy besef saam met Wie jy gaan wees. Jy begin anders dink oor Wie nou by jou is. Jou oortuiging oor wie jy is, in effek, verander wanneer die muur ’n deur kry. Jou oortuiging oor waarmee jy besig moet wees, verander wanneer die muur ’n deur kry. Skielik verander die toon van alles wat ons doen en sê drasties op ons pad na die deur toe.
Hy het die graf en dood oorwin.
Halleluja! Halleluja!
Sy lewe gee ons nuwe sin.
Halleluja! Halleluja!
(Gesang 402: 3)
Dr Pierre Jacobs, Gaborone