Johannes 6: 41-58
Die skare mense wat Jesus gevolg het na die wonderbaarlike voeding van die 10 000, het erg begin mor toe Jesus Homself die brood van die lewe genoem het, wat geëet moet word. Die oorspronklike Grieks stel dit nogal sterk: Hulle moet sy liggaam verorber, opeet! En meer as dit: Hulle moet sy bloed drink! Bloed is nooit deur Jode geëet nie. Die lewe was in die bloed. Om iemand se bloed te drink, was as’t ware om die essensie van daardie persoon se lewe oor te neem! En daardie persoon moet doodgaan voordat dit kan gebeur! Die skare het omtrent hieroor gemor. Watse stories van uit die hemel kom is dit? En die liggaam-eet-en-drink-ding was vir hulle te erg.
Ons is waarskynlik meer bekend met hierdie “eet-beeld” as wat ons besef. Luister na ons taalgebruik: Ons herkou aan ’n moeilike besluit; ons verslind boeke; ons sluk swaar aan stories; drink ’n goeie spreker se toespraak in; en ons eet soms ons eie woorde. Oumas en oupas wil selfs hul kleinkinders van liefde opvreet.
Om Jesus se liggaam te eet, is treffende beeldspraak. Dit wil sê die lewe wat God in Jesus gee, is soos die lewe wat ons deur brood verkry as ons dit eet. Ons kry hierdie lewe deur Jesus in die geloof as ons Verlosser toe te eien (vers 47). Jesus word deel van ons diepste wese, en elke dag leef ons uit die krag wat Hy gee. Om in verhouding met God te leef, is meer as net die navolging van ’n stel behoudende reëls. Dis meer as ’n gevoel van geborgenheid, of ’n troos in nood. Hierdie dinge mag fasette van die Christelike geloof wees. Maar net geloof wat groei uit die eet van Jesus se liggaam en die drink van sy bloed, het waarde. Ons leef so na aan Hom dat ons een word.
Gebed
Here, ek wil u liggaam en bloed inneem, sodat ek deel van U en U deel van my kan wees. Amen.
Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria