Johannes 1: 3-9

Toe ek klein was, het ek ’n baie groot vrees vir die donker gehad. Ek kan onthou hoe ek in die middel van die nag na my ouers se kamer hardloop. Dit het altyd baie waagmoed gevra. Van my kamerdeur tot by my ouers was ’n lang gang vol monsters en onsekerheid. Die donker het al my vrees ingekleur met silhoeëtte wat my laat bibber en beef het. Tog, as my ouers die lig aanskakel, sou ek sien dat hierdie groot monsters maar net ’n eenvoudige staanlampie, of selfs my pa se jas was.

Die donker vul die mens met ’n natuurlike versigtigheid. Dit is een van die mens se oerinstinkte. Selfs die vroegste mense op aarde was versigtig en angstig in die donker. Die lig, aan die ander kant, maak alles duidelik. Lig maak alles beter. Dit is amper asof lig vir ’n mens sekuriteit gee.

Dit is sekerlik hoekom Johannes in sy Evangelie Jesus as die lig vir hierdie donker wêreld beskryf. Johannes het besef dat ons in die lewe oorweldig word deur onsekerheid en dat ons op die pad van die lewe maklik in die donker kan verdwaal. Jesus se koms is vir Johannes soos die lig in die donker gang van my ouerhuis. Dit neem al die onsekerheid weg. Al die gevaarlike monsters van hierdie lewe verdwyn met die koms van Jesus.

Ewe skielik, met die koms van Jesus, het ons alles wat ons nodig het om in hierdie lewe te kan leef. Hoor mooi hoe praat Johannes van hierdie lig as hy sê: In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Eenvoudig gestel: Jesus se lewe verlig ons eie lewe. Dit is die lig wat in die donker van ons lewe skyn. Eens was ons onseker en op die verkeerde pad, maar met die lewe van Jesus weet ons presies wat God van ons verwag. Jesus verlig die wil van God. Die Here Jesus het die lig in die gang aangeskakel. Hy het ons vrees daarmee weggeneem, en ons kan in Hom lewe vind wat alles verlig.

Ds Juan de Beer, Parys

Share via
Copy link
Powered by Social Snap