Lukas 1: 68 en 69 (AFR2020)

Sagaria beskryf die koms van Christus in sy loflied as ’n kragtige verlossing wat God vir ons bewerk het. Die letterlike vertaling van die woorde in die bronteks wat met ’n kragtige verlossing vertaal is, is ’n horing van verlossing. Heeltemal tereg sê die voetnota in die 2020-vertaling dan ook ’n dier se horings is beskou as ’n simbool van krag. Daarom is daar gekies om dit as ’n kragtige verlossing te vertaal. Tog is dit jammer, want deur die woordjie horing uit te laat, verloor die teks iets van sy krag.

Die woordjie horing laat ons immers ook dink aan die Ou Testamentiese gebruik van bloedwraak. As jy iemand doodgemaak het, sou jy uit bloedwraak ook doodgemaak kon word. Maar God is ’n regverdige en genadige God, daarom is daar ruimte vir uitsonderings. Indien jy iemand dalk per ongeluk doodgemaak het, verdien jy tog nie om ook doodgemaak te word nie. Dit het gelei tot die instelling van asielstede. In daardie stede kon jy in sulke gevalle asiel kry en dan die doodstraf vryspring. So word jy vrygespreek van die doodstraf. In 1 Konings 1 en 2 lees ons dat Adonia so asiel gesoek het sodat koning Salomo hom nie doodmaak nie. Hy het naamlik aan die horings van die altaar in die tempel vasgegryp totdat Salomo belowe het om hom te laat lewe.

Met dit in gedagte, kry Sagaria se lied ’n ander element by, ook tekenend van God se genade. Dan sê die horing van verlossing wat God vir ons bewerk het, nie net ’n kragtige verlossing nie, maar juis ook ’n verlossing van die dood! ’n Horing waaraan ons kan vasgryp as ons vryspraak van God se oordeel.

God gee om – daarom gee Hy vir ons uitkoms uit ons grootste nood. Hy gee lewe in die plek van die dood. Vergifnis in plaas van veroordeling. God gee om, en deel van ons dankbaarheid moet wees dat ons ook omgee, liefhê. Ons is immers geroep om sy liefde sigbaar te maak hier op aarde. Mag ons dit nooit vergeet nie.

Dr Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap