Psalm 23; Lukas 15: 1-7 

Soms hang mense rooi-en-wit-gestreepte kieries aan die Kersboom. Die kieries is ook by sekere lekkergoedwinkels te koop. Die rooi-en-wit-kierie laat ’n mens dink aan die staf van ’n skaapherder. Dit herinner ons weer daaraan dat God ons Goeie Herder is en ons sy skape wat Hy tot elke prys sal versorg en beskerm. In die 1953-vertaling van Psalm 23: 4 lees ons: Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Dit laat ons nogal dink aan die gelykenis wat Jesus van die verlore skaap vertel het. Daar lees ons: En as hy hom (die skaap) kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: “Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.”

Die kierie aan die Kersboom herinner ons daaraan dat God ons Goeie Herder is. Hy sal ons altyd gaan soek en terugbring as ons afdwaal. Hy het ons oneindig lief en wil altyd die beste vir sy kinders gee. Hy is ons Herder wat vir ons sorg en elke dag vir ons meer as genoeg gee.

Gesang 364

Ds Maritza Oosthuizen, Belfast/Waterval Boven

af
af
Copy link