Lukas 1: 67-79

Sagaria is al genoem die laaste profeet van die ou bedeling, maar terselfdertyd ook die eerste profeet van die nuwe bedeling. Hy staan as’t ware op die skarnierpunt van die oue en die nuwe. Sy vreugde oor die koms van die Verlosser van die wêreld loop oor in ’n loflied wat geïnspireer is deur die Heilige Gees. Hy gryp terug na die uitsprake van die profete van die verlede, en maak die venster oop na die toekoms van die Here, wat sal aanbreek soos die môreson wat sal opkom.

Sagaria begin sy loflied ook met ’n Magnificat. Die Here, die God van Israel, moet geprys word. In Latyn staan die lied bekend as die Benedictus op grond van die eerste woord in die Latynse vertaling van hierdie lied: Lofwaardig is die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. Hiermee wil Sagaria dit baie duidelik maak dat die God van die Nuwe Testament wat in Jesus die verlossing vir sy volk gaan laat aanbreek, dieselfde God is van die volk Israel, wat Hom oor die eeue reeds as die verlossende God geopenbaar het en wat sy volk in genade opsoek. Jesus se geboorte val nie sommer maar net uit die lug nie, dit is gegrond in die lang voorgeskiedenis van God se liefde en genade vir sy volk en die mense op aarde.

In die tweede deel van sy lofsang praat Sagaria oor sy kind Johannes, wat gebore gaan word. En jy, kindjie, ’n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uit gaan om sy pad gereed te maak, om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel: verlossing deur vergifnis van hulle sondes, danksy die genadige ontferming van ons God.

Die genade van God word hier weer sterk beklemtoon. Dit is deur hierdie genade dat God mense kom red. Dit is hierdie genade wat Jesus op die aarde gaan bring. Johannes sou later verwys na Jesus as die Een wat die sonde van die wêreld sou wegneem. Sagaria profeteer al hieroor in sy loflied. Hy wil sê: Alles is net genade!

Ds Arie Kuyper, Villieria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link