Sagaria 9: 9-10; Johannes 12: 12-19

Vanuit die Ou Testament klink die boodskap in die profetiese boeke soos ’n refrein. Die volk Juda word verseker dat hulle kan uitsien na ’n tyd van redding en voorspoed. Redding en voorspoed wat deur die Messias gebring gaan word.

In die Nuwe Testament word ’n soortgelyke boodskap verkondig, maar vanuit ’n ander hoek. Gelowiges word verseker dat daar in Christus vir hulle ’n nuwe tyd en ewige lewe in die koninkryk van God is.

Sagaria profeteer aan ’n volk in ’n hulpelose en moedelose situasie. Sy boodskap: Juig, Sion! Jubel, Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou toe, Hy is regverdig en die oorwinnaar. Hy is nederig. Ja, Hy kom!

Vandag bly die belofte: As God aan ons die Messias gee, wys Hy vir ons die Christus. Selfs al is Hy in ’n nederige krip neergelê, selfs as Hy, die gesalfde Koning van jou lewe, op ’n donkie ry. Juig, gelowige! Jubel, jy wat moedeloos, alleen en verlore voel. Jou Koning het vir jou gekom. Hy, Jesus Christus, is jou verwagte Koning. Hy is die Koning wat jou van sonde verlos. Hy is die Koning wat jou met God versoen.

Daar is mense wat Jesus Christus slegs sien as iemand wat hulle uit hul situasie moet red. Dit is nie waarom Christus gekom het nie. Hy het gekom om te wys God is met ons! As ons glo dat ons Koning gekom het om God se nabyheid aan ons te wys, jubel dan!

Lydenstyd kom roep dit uit: Kyk, jou Koning kom na jou toe! Laat ons daarop antwoord: Maranata! Ja, kom Here, kom gou!

Ds Werner Venter, Schoemansdal

Share via
Copy link
Powered by Social Snap