Matteus 16: 24-26
Vandag vier ons Aswoensdag. Dit is ’n dag waarop ons nie net herinner word aan ons sterflikheid nie, maar dit is ook die begin van Lydenstyd. Sommige mense kies om in hierdie tyd, tot en met Goeie Vrydag, te vas. Om te vas, gee in werklikheid ’n besondere blik op ons lewens en ons verbindings met mense en dinge. Ons leer dat ons baie keer meer afhanklik is van koffie, sjokolade of sekere gewoontes as wat ons wil erken. So ’n vastydperk herinner ons aan hoe gebind ons werklik is.
Daar is baie te sê vir Jesus se versoek om aan onsself te sterf. Dit is nie om God op die een of ander manier te behaag nie, maar in werklikheid vir onsself. Om aan onsself te sterf, gee ons die kans om vry te kom van dit wat ons nog so bind en verplig: ons ego’s, ons trots, ons eie-ekkigheid en ons selfsug. Dit help tog nie ons hou vas aan ons eie trots maar mis die geleentheid om deel te wees van wat God in ons lewens doen nie. Of om so vas te hou aan ons selfsug dat ons nooit leer wat dit beteken om werklik liefde te betoon nie.
Ek wil jou aanmoedig om hierdie tyd ’n vastyd te maak. Jy kan self kies wat jy graag wil afstaan, of dit soet lekkernye is, sekere gewoontes, of selfs net sekere optredes. Kies iets waarmee jy elke dag te make het, en let op hoe moeilik dit is om daarvan te laat gaan. Ons leef so maklik met ’n illusie van vryheid, maar het nog nie werklik vryheid geproe nie. Lydenstyd bied juis aan ons hierdie geleentheid. ’n Kans om vry te kom van die dinge waarin ons ons so maklik verstrengel. ’n Kans om ’n stukkie ware vryheid te proe en die illusie van vryheid af te skud. ’n Kans om weer aan onsself te sterf en die realiteit van Christus in ons lewens te verwelkom.
Ds Thomas Dreyer, Malelane