Matteus 7: 15-20

Wat en wie is ’n wolf in skaapsklere? Matteus se antwoord op hierdie vrae is duidelik: Dit is die godsdienstige leiers van sy tyd wat op die hoeke staan en bid om gesien te word, en wat aan ander barmhartigheid betoon net wanneer dit gesien word. Hulle kom allerhande menslike wette na soos om hul bekers en borde te was, en tiendes van kruisement, anys en koljander te gee (Matt 23: 23). Maar hulle laat na wat die belangrikste is: die leef van die goue reël van die liefde.

Hulle is, sê Jesus, soos doringstruike wat druiwe dra en dissels wat vye voortbring. En dit kan tog nie. Want ’n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie, net soos ’n goeie boom nie slegte vrugte kan dra nie. Kom ons sê dit in die woorde van Jesus soos Matteus dit aan ons oordra: ’n Wolf in skaapsklere is iemand wat klem lê op allerhande godsdienstige wette en reëls, maar terselfdertyd ander oordeel, nie die splinter in die eie oog raaksien nie, die breë pad loop, en die liefde vertrap.

Ons is soms geneig om so te fokus op die regte dinge wat geglo moet word, dat ons nalaat om die regte dinge te doen. So is ons ook geneig om raak te lees dat Jesus soms ook ernstig gewaarsku het. Hier doen Hy dit. Pasop, sê Hy, vir hulle wat klem lê op allerhande godsdienstige reëls en wette, maar die goue reël vergeet. Hierdie mense, sê Jesus, lei mense weg van die koninkryk af, nie na die koninkryk toe nie.

Kinders van God trek net een stel klere aan, die kleed van liefde wat ander bedek soos God ons elke dag in sy hand van liefde toevou.

Prof Ernest van Eck, Universiteit van Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link