Lukas 4: 16-30
Die volgende week se dagstukkies handel oor die mense in die tyd van Jesus en oor wie rondom die Heiland vergader het. Mense met gebreke en sondes. Die tipe mense wat vandag nog bestaan.
Vandag se Skrifgedeelte speel af in Nasaret, Jesus se geboortestad. Hy word gevra om ’n gedeelte uit die profete voor te lees. Hy lees gedeeltes uit Jesaja 42 en 62, wat duidelik praat oor die werk van die toekomstige Messias en die geseënde en vertroostende krag wat daaruit sal gaan. Dan begin Jesus preek oor die blindes en armes, die gebrokenes van hart wat vertroos en gehelp sal word. Nog meer, dat hierdie Skrifwoord inderwaarheid vandag vervul is in sy persoon, Jesus.
Almal was daardie dag ontroer deur Jesus se prediking. Maar skielik verander die atmosfeer. Dit is nie meer slegs bewonderend nie; daar word gevra waarom Christus nie hier ook wonders doen nie, soos hulle gehoor het Hy in Kapernaum gedoen het.
As ons vandag na dié mense luister, klink nie een se reaksie in die sinagoge daardie dag reg nie. Die enigste korrekte reaksie op Christus se prediking is: Hier is ek, Here. Blind, verarm en gevange. Red my! Maar die mense soek die sensasie van tekens en wonders. Hulle eien hulle ’n reg toe om die wonderdade te aanskou. Nasaret is immers Jesus se tuisdorp en hulle kan nie afsteek teen Kapernaum nie.
Maar die Here Jesus verduidelik met voorbeelde uit die Skrif dat jou geboorteplek, stand of klas die minste saak maak. Waaroor dit gaan in elkeen van ons se lewens, is of ons die stem van die lewende God hoor en met oorgawe daarop reageer, dit deel van ons lewens maak. Ons elkeen soek so maklik na sensasie. Selfs in die kerk soek ons net die beste predikers, die wonderlikste eredienservarings. Maar dit is alles niks werd as ons nie die stem van die Allerhoogste hoor en daarop antwoord nie. Soos Samuel bid: Spreek Heer, u dienaar luister.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico
