Johannes 14: 1-6

Jesus se dissipels sou hierdie woorde anders as ons gehoor het. Ons hoor dit as bemoedigende woorde in tye van hartseer, maar hulle sou dit gehoor het as die Griekse woorde wat met huweliksbevestiging gebruik is.

As die bruidegom die seën van altwee families ontvang het, sou hy sy aanstaande bruid tydelik groet met die woorde: Ek gaan vooruit om ons blyplekkie te gaan regkry. Dan sou hy gaan, reguit na sy pa se huis toe. Daar sou hy ’n kamer aanbou, dikwels bo-op sy pa se huis, vir hom en sy aanstaande vrou. Interessant genoeg, alleen wanneer die pa bepaal het dat die woonplek vir hulle reg is, kon die bruidegom teruggaan om sy bruid te gaan haal.

Jesus maak aanspraak daarop om dieselfde vir ons te doen. Hy as die Bruidegom gaan vooruit om die woonplek vir sy bruid gereed te maak. Die bruid is ek en jy. En as sy Vader bepaal die tyd is reg, sal ons Bruidegom vir sy bruid kom. Hy belowe ’n plek. Die Griekse woord topos is ’n “letterlike” plek. Meer nog: Hy belowe dat Hy ons daarheen sal vergesel. Ek sal kom en Ek sal jou kom haal, weerklink Jesus se woorde.

Hoe weet ons sy belofte is waar en nie net ’n bygeloof nie? Dat ons ons lewens, ons harte en ons hoop in die hande plaas van die klein dorpie Nasaret se timmerman wat twee duisend jaar gelede geleef het? Die antwoord op hierdie vraag rus in ’n Jerusalemse begraafplaas. As Jesus se graf leeg is, is sy beloftes nie leeg nie. Die apostel Paulus roep die getuies van ’n leë graf en ’n opgestane Jesus in om te getuig dat Jesus se belofte waar geword het. Hy pak die bewyse soos ’n advokaat uit. Jesus het waarlik opgestaan en Hy leef. Hy maak ’n hemelse tuiste gereed en sal jou op die regte tyd self kom haal, in opdrag van sy Vader.

Ds Jimmy Manders, Witfontein

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link