Psalm 121

Een van die redes vir hierdie pelgrimslied se gewildheid is die ongekompliseerdheid van die bidder se geloof. Die bidder vra waar sy hulp vandaan gaan kom. Die antwoord wat moontlik deur ’n ander persoon gegee word, stel ’n basiese feit in die lewe van ’n gelowige, naamlik dat ons hulp van die Here kom, hulp hier om by die tempel te kan kom om Hom te aanbid. As daar iemand is wat kan help, is dit God. Hierdie vertroue is gegrond op die feit dat Hy die skepper van hemel en aarde is. Binne die konteks van die Psalm is dit belangrik, omdat hul verstaan van redding en skepping baie nou verbonde was. God wat skep, is dieselfde God wat red. God wat alles geskep het, daarom kan Hy die mens ook bystaan wanneer die lewe se bedreigings ’n werklikheid word. Die mens, so glo hulle, lê spreekwoordelik in die palm van God se hand. En hierdie geloof dat God so by jou is en jou beskerm, gee vir die Psalmdigter die sekerheid waarop hierdie sterk belydenis gegrond word: My hulp kom van die Here.

In die vroeë kerk is hierdie Psalm by die Oujaars- en Nuwejaarsfeeste gelees. Dan het die Psalm die doel gedien om iets van die op-weg-wees met God uit te druk. Hierdie Psalm het vir hulle die verganklikheid van die mens en die heiligheid van God benadruk. Die verganklike mens is immers op weg binne die onvoorspelbaarheid van die lewe. Maar hierdie Psalm druk dit vir ons op die hart dat hierdie op-weg-wees nie alleen geskied nie, maar dat dit ’n op-weg-wees saam met God is. Daarom is daar hoop, maar ook geloofstryd, seën en bemoediging.

Juis daarom gee hierdie Psalm vir ons – wat ook gekonfronteer word met die werklikheid van die lewe met sy voor- en teëspoed – die sekerheid dat ons nie alleen is nie. Ons hulp kom van die Here, die Almagtige, wat in ons op-weg-wees elke oomblik by ons is.

Ds Willem Sauer, Waterberg

af
af
Deel met behulp van
Copy link