Jesaja 5: 1-6

Die profeet Jesaja het die Woord van die Here verkondig toe die Assiriese magte Israel bedreig het. Hy het ongeveer 750 jaar voor die koms van Christus geleef. In sy leeftyd het vier konings van Juda gekom en gegaan. Jesaja het beleef hoe die Judese koningshuis, Jerusalem en die tempel van Salomo in 701 vC vernietig word.

Die eerste gedeelte van die boek bevat Jesaja se “preke”, waarin hy afwisselend die volk van God waarsku dat God hulle gaan oordeel en straf, maar tegelykertyd ook verkondig dat God weer uitkoms sal bring. Dit sal gebeur op die dag van die Here, wanneer die Vredevors kom en al die nasies in Sion sal versamel om deur God self gelei te word. Die nasies sal onder die heerskappy van die Vredevors versamel en so deel wees van God se koninkryk.

Hoofstuk 5 begin met ’n aangrypende liefdesverklaring van Jesaja: Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd… Die profeet het God en God se volk lief. Die volk word in beeldende taal as “God se wingerd” beskryf. Ten spyte van alles wat die Eienaar (God) gedoen het, die mure en wagtorings wat gebou is, ten spyte van die noukeurige bewerking en versorging deur die arbeiders (profete), dra die wingerd net suur druiwe. Daarom sal die Eienaar die wingerd se mure afbreek en sal die wingerd tot niet gaan.

In die Nuwe Testament word dieselfde beeldspraak gebruik om na die kerk te verwys. Jesus verwys na Homself as die Wingerdstok, na die Vader as die Boer, en na ons as die lote. Die Vader snoei die wingerd reg. Die dooie lote word uitgesny en verbrand. Ons as gelowiges en as kerk leef en bestaan as God se volk, as God se mense, as God se wingerd. Ons moet die vrugte dra wat by die geloof pas. Dit is net moontlik wanneer die lote vas is aan die Wingerdstok, wanneer ons met Christus een is in sy dood en opstanding.

Prof Wim Dreyer, Universiteit van Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link