Psalm 122

Psalm 122 se digter is op pad na Jerusalem, om daar in die tempel te gaan aanbid. Hy is op pad ná die ballingskap in die tyd toe Jerusalem weer herbou is. Hy probeer gelowiges aanmoedig om weer na die tempel in die herboude Jerusalem te gaan. Jerusalem en die tempel was verwoes en die volk is weggevoer na Babilonië, maar nou is Jerusalem weer herbou, en die volk is maar traag om met hul pelgrimstogte na Jerusalem te gaan. Jerusalem en die tempel is immers ver en die reis is moeilik, gevaarlik en duur. Buitendien is daar baie werk by die huis en ’n mens is maar besig.

Psalm 122 is egter die lied van iemand wat wel besluit het om ten spyte van al die teenkanting tog te gaan na Jerusalem om te aanbid. Daarom begin sy lied met die aangrypende woorde: Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe.”

Kontak met die Here gee vastigheid aan ons lewens. In ’n wêreld vol chaos en onvoorspelbare dinge, waarin jy môre dalk jou gesondheid kan verloor, vanmiddag ’n hartaanval kan kry, môre kan sien hoe jou beleggings platval en skielik jou grond kwyt kan wees, gee ons kontak met die Here vir ons vastigheid en stabiliteit.

Een van die vorme van kontak, die erediens, versterk en voed onder andere ons aanbidding en verhouding met God. Dit gee ons geleentheid om ons batterye te herlaai, om die spreekwoordelike potlood skerp te maak. Die erediens vestig ook ons aandag op die wil van God.

Die erediens beïnvloed die res van ons week, want dis hier waar ons vrede en rus kry by God vir die res van die week. Dit is in die erediens dat ons van God se liefde, barmhartigheid en genade hoor. Dít gee ons vrede en rus vir wat in die week mag gebeur. Wat ook al in hierdie komende week met ons mag gebeur, ons weet, niks kan ons skei van God se liefde nie.

Ds Kobus Celliers, Brits

af
af
Deel met behulp van
Copy link