Filippense 4: 10-14

Baie mense het die een of ander gunstelingplek. Vir sommige is dit ’n fisiese plek soos die see, bosveld, wildtuin, winkelsentrum, ensomeer. Ander verkies weer ’n emosionele plek, soos daar waar my kinders, vriende of familie is. Daar is natuurlik ook diegene wat vroom sal antwoord dat hul gunstelingplek die kerk of die gebeurlikhede en diensorgane van die kerk is.

Wat ons hier by Paulus opmerk, is dat hy amper nie ’n gunstelingplek het waarna hy hunker nie, en dat daar nie ’n spesifieke omstandigheid is wat hom trek nie. In vers 11 gee hy doodeenvoudig die gedagte dat hy geleer het om in alle omstandighede homself te kan behelp. Met ander woorde, hy het homself die vermoë geleer om op enige plek tevrede en gelukkig te wees. Die Engelse woord vertaal hierdie konsep dalk die beste: content.

Dit is ’n gelaaide opmerking om vanuit die tronk te skryf, en dit is ook nie omdat Paulus net swaarkry ken nie. Hy noem pertinent soos die Prediker dat hy alle omstandighede al beleef het, van armoede tot oorvloed. Hy erken dat hy in alles ondervinding het en ervaring het van voorspoed en teenspoed. Hierdie vermoë om in alle omstandighede homself te kan behelp, kom wel nie uit homself nie. Paulus kon met al hierdie uitdagings en lewensfases in staat wees om homself te behelp, en tevrede te wees, deur krag wat hy ontvang het. Hy het nie rykdom, grond, kos of mense nodig om hom tevrede te stel nie. Christus gee die krag om oral tevrede te kan wees.

So moet ons ook leer om enige en elke plek waar ons voete uitkom, te waardeer, want Christus het ons die krag gegee om tot daar te kom, en bly ons versterk om ook uit te kom waar ons nog moet uitkom. Mag ons leer om deur die Heilige Gees wat ons versterk, met ’n eerlike gemoed te kan sê: My gunstelingplek is hier en nou, want dit is hier en nou waar Christus my gebring het en my steeds gebruik om die evangelie te verkondig.

Ds Schalk Zastron, Ermelo

Share via
Copy link
Powered by Social Snap