Matteus 5: 8; 1 Johannes 4: 7-12

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor, sê die Afrikaanse spreekwoord. ’n Mens praat oor dit wat jou gedagtes in beslag neem. Hierdie spreekwoord praat van die hart as die sentrum van ’n mens se gedagtes. Ons is geneig om altyd aan die hart van die mens te dink as die plek waar die emosies van die mens geleë is. Daarom sê ons dat iemand se hart stukkend is, dat iemand ’n hartsgeheim het, of dat iemand ’n gebroke hart het.

Toe Jesus in Matteus 5: 8 gesê het dat dié wat rein van hart is, gelukkige mense is, het Hy dit in ’n ander konteks gesê. Hy het gepraat oor die hart van die mens soos die mense van sy tyd dit verstaan het. Vir hulle was die hart van die mens iets soos die mens se beheersentrum. Dit was vir hulle die plek waar die karakter van ’n mens gesetel was. Dit was die plek waar elke begeerte sy oorsprong gehad het, waar al die gevoelens vandaan kom, waar al die idees van die mens ontstaan, en die plek waar die mens se rede lê. Daarom dat ons in Spreuke 4: 23 lees: Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Matteus 5: 8 vra dat ons hart, kragte en verstand aan God sal behoort. Dat ons dink en doen, God se dink en doen sal wees. Dat ons erkenning aan God se teenwoordigheid in elke aspek van ons lewe sal gee. God is deel van ons werk, ons speel en ons verhoudings. Ons gee erkenning aan God se teenwoordigheid wanneer ons ’n mede-mens is vir ons medemense. Gelukkig is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Dit klink darem baie na die woorde van 1 Johannes 4: 12: Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde sy doel volkome bereik. Waar mense aan mekaar liefde en deernis bewys, daar is God teenwoordig.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link