Eksodus 6: 4-7

Ons is nie, soos Israel in Egipte, slawe of dwangarbeiders nie. Tog kan ons ewe goed kerm en moedeloos raak oor die harde werk en gesukkel in die lewe. Hoe maklik voel ons nie vasgevang nie. In die animasiefilm Aladdin sing die arm jongman wat in ’n harde wêreld moet oorleef, en die ryk prinses wat in ’n paleis agter hoë mure woon, oor hul lewens wat so van mekaar verskil, en hulle kom gelyk uit by: I feel so trapped.

Gelowiges vra: Waar is God hierin? Die Duitse teoloog Friedrich Schleiermacher sê God is nie meer teenwoordig in ons vreugde as in ons leed nie. God is ook nie meer afwesig in ons leed as in ons vreugde nie. God is daar, oral waar gelowiges én ongelowiges nie verwag om God te vind nie. Maar besef ons dit?

Vir wie vasgevang voel, is dit asof niks ooit sal verander nie. Tog ís daar hoop, want God is daar – bo alle omstandighede, magte, kragte en strukture. God is nie deel van die klein wêreld waarin mense vasgevang is nie. Ek is die Here, sê God. Maar besef ons dit?

God bevry en verlos, gee beweegruimte, asemhaalkans. In die verhaal van Israel word dit aangekondig asof dit reeds gebeur het. Só seker is dit. Vir God is dit gedane sake.

Om bevry te word, mag dalk iets van ons vra – dat ons iets moet doen, of dat ons sal luister, glo en vertrou. Moses moes met die farao gaan praat. Hy wou nie. Die mense wat so besig was om te kerm en te kla, wou nie hoor wat God vir hulle in die vooruitsig gehad het nie.

Daar is altyd genoeg om oor te kerm in die lewe. Die vrye keuse wat ons het, is waarop ons wil fokus. Ons kan bly vaskyk teen onsself en ons vasgevang wees, óf ons kan weet dat God ons hoor. God sê: Ek is die Here. Dit is so goed asof Ek jou reeds bevry het. Kom nou!

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link