Psalm 8

Die Bybel is ’n biblioteek van boeke wat, elkeen volgens sy eie aard, die verhale van God en God se mense vertel. Die Bybel is nie ’n geskiedenis- of wetenskaplike handboek nie. Dit is die getuienis van gelowige mense wat die ervaring van hul verhouding met God met ons deel – verhale van lank gelede, van mense wie se verstaan van die werklikheid en hul manier van lewe ver van ons verwyder is.

Deur die werk van die Heilige Gees leef hierdie mense in ’n geloofsverhouding met God. As ons hul verhale lees met die verwagting dat die Gees van God ook so in ons sal werk, hoor ons God se stem in ons lewe. Daarom sing ons: T’rug tot in die grys verlede bou Gods woord vir ons ’n brug; oor die troebel van die hede open dit ’n toekomsvlug … Deur sy Gees laat God … ook in ons sy woorde lewe (Ges 255).

Só word ons eie lewensverhaal deel van die groot verhaal van God se besig wees met mense! Soos die digter van Psalm 8, staan ons ook verwonderd voor die groot God en word ons deel van ’n geloofsverhouding met God. Die digter deel met ons sy ervaring van God as hy die grootheid van God se skepping aanskou. Hy kan nie anders nie as om in verwondering uit te roep: Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

En dan die besef: God maak met my, klein mensie, moeite! God ken my, dink aan my! Só word die dikwels moeisame gang van ons lewe oomblikke van ewigheid. Ons kan hoopvol leef en betekenis gee aan ons lewe. Maar ons het ook die verantwoordelikheid om God se verteenwoordiger, en die bestuurder en bewaarder van sy skepping te wees.

Wat  beteken hierdie verhale wat Israel van geslag tot geslag oorvertel en waarvan ons die res van hierdie week sal lees vir hulle … en vir ons?

Ds Japie Coetzee, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link