Matteus 16: 13-18

By ’n amptelike geleentheid sit twee jongmanne ’n paar rye agter die Britse premier Winston Churchill. Hulle praat onderlangs met mekaar. Daardie is Winston Churchill, sê die een. Hulle sê hy is nie meer wat hy was nie. Ja, sê sy vriend, ek hoor hulle sê hy behoort van die premierskap afstand te doen sodat ’n jonger persoon kan oorneem. Na die seremonie stap Churchill na hulle toe en sê: Menere, hulle sê ook: “Hy is besig om doof te raak”.

Het jy al ooit gewonder wie is hulle wat so alwys is en altyd ’n eier te lê het, gewoonlik ongenooid? Wel, hulle is gesigloos – en heel dikwels heeltemal verkeerd.

Wat as Noag dit sommer net aanvaar het toe hulle sê: Wat jy beplan, is onmoontlik! Wat as Dawid geskrik het toe hy hoor dat hulle beweer die reus is onoorwinlik? En wat van die gerug wat versprei is om Nehemia te laat afsien van die bouwerk aan die muur om Jerusalem? Hulle sê jy wil koning word!

En Jesus, wie sê hulle is Hy? Volgens Matteus 16 sê hulle Hy is Johannes die Doper, of Elia, of Jeremia, of een van die profete. Hulle was almal verkeerd – net soos hulle wat vandag ook baie oor Christus te sê het.

Jesus vra: Wie, sê julle, is Ek? Saam met Simon Petrus antwoord ons: U is die Christus, die Seun van die lewende God. En hierdie belydenis word die onvernietigbare rots waarop God sy kerk, en ons lewens, bou.

Net so moet ons ook nie glo wat hulle oor ander sê nie, want wat weet hulle in elk geval? En moenie glo wat hulle oor jóú sê nie, want hulle ken jou nie – hulle het nog nie ’n enkele tree in jou skoene geloop nie. Glo wat God sê, want Hy ken jou deur en deur en dra altyd jou belange op die hart.

Ons lewe, saligheid en toekoms hang nie af van wat hulle sê nie. Al wat saak maak, is: Wat sê óns oor God? En wat sê God oor óns?

Dr Johan van Staden, Sionspoort

af
af
Deel met behulp van
Copy link