Psalm 39: 5-6; Efesiërs 5: 15-16

Gaan dit op die oomblik onmoontlik moeilik met jou? Van alle kante sak moeilikheid op jou toe en jy sien nie uitkoms nie. Voel jy dalk soos Dawid of soos Job terwyl ’n reeks probleme jou tref? Begin jy wonder waarom God al hierdie dinge toelaat in jou lewe? As jy dan glo, waarom laat God dit toe?

Weet vandag dat geloof of om te glo jou nie van lyding en swaarkry vrywaar nie. God laat soms lyding in jou lewe toe om jou te vorm en om jou nader aan Hom te bring. Lyding is ’n streng onderwyser wat jou leer hoe om by God se groot genade uit te kom. Charles Spurgeon het eenmaal gesê dat daar geen kroondraers in die hemel is wat nie kruisdraers op die aarde was nie. Weet vandag dat dit juis in die swaarkrytye is dat jy groei, God se hart leer ken, gevorm word en in geloof verdiep tot die suiwerste vorm. God sal nooit toelaat dat jy bo jou kragte versoek word, dat jy vergaan in die vuur nie. Selfs al gaan jy deur donker dieptes, weet dat God met jou is. Hy dra jou deur jou krisis en anderkant uit. Hy wil jou in die lig laat wandel, jou seën en ’n suiwer verhouding met jou hê.

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly (2 Kor 4: 16-17).

Gebed

Abba Vader, dankie vir u liefde, sorg en geduld met ons. Dankie dat ons kan vashou aan die wete dat U ons nooit alleen sal los nie. Selfs al gaan ons deur donker dieptes, is ons bewus van u stille teenwoordigheid. Dit bring vir ons vreugde om te weet dat dieselfde hande wat die kruis gedra het, ons dra. Ons dank en eer U daarvoor. Amen.

Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

Share via
Copy link
Powered by Social Snap