Hebreërs 10: 1-18

Die Ou-Testamentiese offers was onvolkome. Dit kon nie die mens van sy sonde bevry nie. Daarom moes daar herhalend geoffer word. Tog het God op grond van sy sparende liefde ag geslaan op die offers van sy volk. Hierdie offers het Hom egter nie behaag nie. God verdra dit, omdat Hy op pad was met die mensdom na die beslissendste oomblik in die mens se bestaan. God sou self ingryp, en daarom het Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur. Net Jesus Christus kon dié offer bring wat God behaag. Sy offer was nie net die kruisdood nie, maar alles wat sy kruisiging vooraf gegaan het. Jesus moes bittere vernedering en bespotting verdra, Hy moes versoeking en verleiding weerstaan. Hy is deur diepe beproewing en onbeskryflike lyding. Deur alles heen het Hy volkome gehoorsaam aan God gebly.

Selfs in die uur van Godverlatenheid en veragtelike dood bly Hy gehoorsaam. Die offer van Jesus was uniek. Die uniekheid van sy offer lê nie in sy dood nie, maar in sy volmaakte gehoorsaamheid aan God tot in die dood. Dat Jesus se offer God behaag, word bevestig wanneer Jesus uit die dood opgewek word. In Christus se dood en opstanding sluit God ’n nuwe verbond met ’n nuwe volk hier op aarde. Wie in Christus glo, se sonde word vergewe. Daarvoor is reeds geoffer. Die skuld is reeds betaal. Geen verdere offers is moontlik of nodig nie.

Christene is mense wat dankbaar daarna streef om ’n lewe te leef waarmee God tevrede is. Dit is ’n lewe waarin ons gemeenskap aan Christus sigbaar word. In ons uitgedorde harte pols daar nuwe lewe. Christus leef deur sy Gees in ons. Hy is die fontein van die lewe. Ons gemeenskap aan Christus word juis sigbaar waar gelowiges mekaar in Christus ontmoet. Waar ons mekaar dien, dien ons Hom. Ons soek Hom in mekaar. Waar ons saam is in liefdesgemeenskap, word ons geloofsgemeenskap.  

Ds Willem Kok, Potchefstroom

af
af
Deel met behulp van
Copy link