Eksodus 32: 1-14
Die gawe van die Gees wat ons vandag gaan oordink, is die gawe van leiding en sy gepaardgaande deug, verstandigheid.
Die gawe van leiding – of raad, soos Jesaja 11 dit noem – kan verwys óf na die raad en leiding wat ons van God ontvang, óf na die gawe om raad of leiding vir ander mense te gee. Die ironie van die saak is dat die twee baie keer bots. Ons sondige aard maak dat die leiding wat ons vir ander mense gee, nie die leiding is wat ons van God ontvang nie.
Eksodus 32 beeld hierdie dilemma uit. Moses is op die berg Sinai om die wet te ontvang. Maar Moses bly toe te lank weg. Die volk dring aan by Aäron dat hy vir hulle ’n beeld moet maak om te aanbid. Aäron maak toe die goue kalf en ironies genoeg, roep hy ’n fees uit vir die Here. Aäron het duidelik geglo dat hy die wil van die Here navolg. Dat die leiding wat hy aan die volk gee, die leiding is wat hy van God ontvang het. In werklikheid het Aäron in ’n kort tydjie die eerste drie gebooie verontagsaam wat hy net kort tevore (Eks 20) belowe het om na te kom.
Aäron probeer die volk lei. Hy voel hul ongeduld aan. Maar hy tree onverstandig op. Die verstandigheid waarvan gepraat word as die deug wat leiding versterk, is die verstandigheid wat baie maal (1 Tim 3 en Tit 1) as ’n karaktertrek van ’n ouderling weergegee word. Die letterlike betekenis van verstandig is om gesentreer te wees in God. Om nie toe te gee vir allerhande uitspattighede of ondeurdagte aksies nie, maar om balans in God te vind.
Wanneer ons gesentreer is in God, word geen wag vir ons te lank nie. Wanneer ons verstandigheid aan die dag lê, luister ons eers na die leiding wat God vir ons gee voordat ons dit sal durf waag om leiding en raad te bied aan ander.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico
