Genesis 28: 10-21

Uiteindelik het Jakob se streke hom nou ingehaal – so erg dat hy vir sy lewe moet vlug! Daarom moet hy nou hier teen sononder in die vreemde ’n slaapplek soek. Dan die ongelooflike droom van die leer tussen die hemel en die aarde, met die engele wat op en af teen die leer klim. Die belangrike egter is dat God self in die droom aan Jakob verskyn en met hom praat!

Na die droom skrik Jakob wakker en sê: Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie. Die volgende oggend het hy die klip wat hy as kussing gebruik het, gevat en olie daaroor uitgegooi. Hy het daardie plek toe aan God gewy en dit Bet-El genoem, wat beteken huis van God

Jakob met al sy foute en tekortkominge sê iets wat ’n mens eintlik tot stilstand ruk. Hy sien iets raak wat baie van ons baie keer mis. Ek wonder hoeveel keer dit al met ons gebeur het dat die Here teenwoordig is, en ons dit nie eens besef nie?

God kom na ons toe, gewone mense soos Jakob, ek en jy… mense met foute. Al wat Hy van ons vra, is om te besef dat Hy reeds hier is en dat Hy ons lief het. Ons sien dit in die pad wat God met sy kinders stap. Ons sien dit in sy liefde en omgee vir sy volk. Ons sien dit in die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus. Deur sy Gees is God vandag steeds by ons teenwoordig. Die vraag is: Besef ons dit?

Gebed

Ons Here, laat ons algaande in ons lewens bewus word van u teenwoordigheid by ons. Here, help ons asseblief dat ons U nie sal miskyk nie. Dikwels hou ons ons oë gevestig op verkeerde dinge. Ons hou ons oë so gevestig op ons vrese, bekommernisse en woede dat ons U nie raaksien nie. Open asseblief ons oë en ons harte, Here. Amen.

Ds Erika Ferreira, Bellville

af
af
Deel met behulp van
Copy link