Johannes 14: 1-14

Gister het ons gesien dat God se liefde en Jesus se opstanding ons dring tot liefde. Vandag gaan ons die volgende hoofstuk in Johannes lees om te sien waarmee Jesus sy volgelinge toegerus het.

Jesus begin troostend deur te sê dat hul harte nie ontsteld moet wees nie, want hulle het hul geloof om aan vas te hou. Glo in God; glo ook in My… Hy noem dat Hy vooruitgaan om vir sy volgelinge plek voor te berei en bevestig dat Hy – Christus sélf – die weg is. Hy is die skakel tussen God en mens, maar Hy is ook God. Hierdie gedeelte is een van die plekke waar die eenheid van God duidelik uitgedruk word.

Christus rus sy volgelinge toe met geloof, maar ook met gebed. In verse 13 en 14 bevestig Hy dat die mens na Hom en die Vader kan gaan met kwellinge. Jesus het self soveel keer gebid en ook aan sy volgelinge die Onse Vader gegee as ’n voorbeeld van ’n gebed. In Johannes 17 vind ons die langste gebed van Jesus. Die treffendste van hierdie gebed is die feit dat Jesus vir sy volgelinge bid, Hy bid vir sy dissipels, maar ook vir ons. In Johannes 17: 20 staan daar dat Hy bid vir dié wat deur sy dissipels se woorde tot bekering kom. Jesus het dus voor sy kruisiging die hele Christelike kerk aan God opgedra. Dit dring ons om nie net vir onsself te bid nie, maar ook vir God se kerk en vir die verkondiging van sy evangelie.

Hy maak nou vir ons plek gereed

by God, ons Heer en Vader;

en deur sy offer kan ons weet

dat ons tot God mag nader!

Laat ons Hom daarvoor loof en prys;

sy Naam roem en Hom eer bewys –

Hy lei ons na die Vader!

(Gesang 426: 2)

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap