Openbaring 2: 12-17

Christus beloof aan die gemeente in Pergamum dat Hy vir diegene wat oorwin, van die verborge manna sal gee, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe naam daarop gegraveer (Op 2: 17). Albei hierdie beloftes herinner die lesers aan verhale uit die Ou Testament.

Nadat Israel uit slawerny in Egipte verlos is, het hulle deur die woestyn gereis op pad na die beloofde land. Terwyl hulle gereis het, was daar nie veel om te eet nie, en het Israel gemeen dat Moses hulle net verlos het sodat hulle in die woestyn kon omkom van die honger (Eks 16: 1-3). Maar die Here voorsien aan Israel manna uit die hemel, genoeg om in elke gesin se daaglikse behoeftes te voorsien (Eks 16: 17).

Buiten vir hierdie verhaal, wanneer Openbaring 2: 17 gelees word, dink ons ook aan al die verhale in die Ou Testament waar God self aan ’n karakter ’n nuwe naam gegee het. Onder andere: Abram en Sarai word Abraham en Sara (Gen 17: 5, 15), en Jakob word Israel (Gen 32: 28). Buiten vir die betekenisse wat duidelik in die verhale geheg word aan hierdie nuwe name, spreek dit ook van die sorg van God. Omdat God die Een is wat aan hulle hul nuwe name gegee het, sal God die Een wees wat hulle ook beskerm en altyd saam met hulle sal reis. God ken hulle op hul naam (Eks 33: 17; Jes 45: 4).

Die gemeente in Pergamum leef in ’n stad waar die troon van Satan staan en ’n gelowige, Antipas, doodgemaak is vir sy geloof in Christus (Op 2: 13). Dus leef hulle in omstandighede van vrees en onsekerheid. Wanneer hulle egter hoor dat Christus hulle beloof dat Hy aan hulle die verborge manna sal gee en self ’n nuwe naam aan hulle sal toeskryf, word hulle opnuut herinner aan die nabyheid en sorg van God. Soos God Israel op hul naam ken, hulle versorg het en saam met hulle was, so is God steeds by hierdie gemeente in Pergamum, asook by ons.

Gesang 519

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap