Johannes 4: 5-24

Juda en Israel het sedert die skeuring van die ryk gestry oor wie die regte koning het, watter groep die ware volk van God is en waar God nou eintlik aanbid moet word (Jerusalem of Samaria). Nadat die Noordryk van Israel deur die Assiriërs verower is, het baie heidene hulle daar gevestig en met die oorblywende Israeliete vermeng. Die Samaritane was dus aanvanklik, soos die Judeërs, egte Israeliete, maar met die verloop van gebeure is die Samaritane later deur die Jode beskou as afskuwelik. Nie eg Joods nie en nie volledig heiden nie. Slegter as albei en ewig van God vervreem omdat hulle die bloed van die verbondsvolk besoedel het.

Die Samaritaanse vrou is dus verbaas dat Jesus haar vir water vra. Dis onverwags. ’n Joodse man sou meer geneig wees om ’n Samaritaanse vrou in ’n put af te gooi as om met haar ’n beskaafde gesprek aan te knoop of haar hulp te vra. Die historiese en kontemporêre boosheid onder God se mense maak gelowige, menswaardige optrede verbasend.

Die werklikhede van daardie leefwêreld keer Jesus nie om vanuit sy Vader se Gees op te tree nie. Hy praat met die minderwaardige Samaritaanse vrou en vra haar selfs om hulp. Wanneer die Gees praat, is dit soos ’n fontein wat opborrel uit die ewige lewe en ons harte en denke en optrede daarvolgens rig. Dit het lewens tot gevolg wat hierdie bose wêreld waaroor ons so kla, verbaas laat staan, omdat dit soveel anders is as die norm.

God werk in die onverwagse oomblikke van die lewe, maar die Goddelike werke van die Gees mag nooit onverwags wees in die lewens van gelowiges nie. Die feit dat ons gewoond is aan ’n wêreld waar die algemene werke van die Gees ’n vreemde verskynsel is, moet en mag ons nie van sy werke vervreem nie. Inteendeel, ons het die opdrag en geleentheid om ’n wêreld vol seer en boosheid met geloofsoptrede te gaan verbaas.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link