Matteus 6: 11

Miskien het julle dit al almal gesien: ’n voëlnes met pas uitgebroeide kuikens daarin. Hierdie kuikens skreeu as’t ware met uitgerekte nekke en oopgesperde bekke: Gee ons kos! Hulle is totaal afhanklik van die wurmpie wat die ma aandra.

Hierdie beeld wil ook vir ons iets leer. Daar is geen ander manier waarop ons voor God kan staan nie. In die eerste deel van die Onse Vader gaan dit oor God: oor sy Naam, sy koninkryk, sy wil. Die vierde bede vat ons terug aarde toe, na die alledaagse, ons daaglikse broodrantsoen. Waar die eerste drie bedes ons leer om groot oor God te dink, leer hierdie vierde bede ons om ook in die klein dinge oor God te dink. Hy kom sit as’t ware saam met ons aan tafel, en gee vir ons die brood aan soos een van ons familielede. Dit sê vir ons dat God in hierdie wêreld besig is.

Hierdie gebed laat jou egter nie net ontvang nie, maar roep jou ook op om te gee. As jy weet dat jy jou daaglikse brood uit God se hand ontvang, raak jy gevoelig vir ander wat dalk nie brood het nie. ’n Mens kan beswaarlik sê Gee ons vandag ons daaglikse brood en selfsugtig die brood op jou eie tafel hou. Omdat ons besittings nie ons eie is nie, en omdat ons weet dat die Vader vir ons sorg, moet ons hand oopgaan om ook aan ander te gee.

Dit is ’n moeilike gebed, want dit is dringend dat die wêreld, met sy hongersnood en miljoene ondervoede kinders, ’n inskrywing in die kerk se adresboekie word. Ons kan nie hierdie gebed met ’n skoon gewete bid as ons tafels kreun onder al die lekkernye, terwyl miljoene magies kreunend pleit om krummels nie. Daarom moet ons die dinge wat ons van God ontvang het, ook vrylik uit ons hand laat gaan. Wanneer ons van God se hand tot ons mond leef, mag ons ook van ons hand na ander se monde leef.

Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

Share via
Copy link
Powered by Social Snap