Romeine 15: 4-13
Die woord hoop word mooi beskryf in vers 13 van hierdie gedeelte. God is die bron van hoop en uit Hom vloei hoop. Vir ons het hoop dikwels te make met die geloof dat dinge ten goede sal uitwerk, al lyk dinge nou hoe sleg ook al! Ander beskou mense wat hoop as optimiste – en voel dat dié mense na ’n situasie kyk sonder om al die potensiaal vir ellende raak te sien.
Hoop beteken nie ons aanvaar maar net die situasie soos dit is en sit terug met die gedagte dat wat sal wees, sal wees nie. Die rede hoekom ons meer as net die ooglopende oor hoop kan sê, is omdat God self die bron van ons hoop is en omdat die Heilige Gees dit in ons werk. En God se liefde moet daagliks verder in ons leef deur sy Heilige Gees.
Jy kan hoop slegs uitleef as jy dit waar maak vir ander. Want as ek werklik hoop, roep dit my op tot aksie. Hoop vra van ons om nie net veilig in ons huise te sit en slegs aan onsself te dink nie. Hoop roep ons op om ter wille van die eer van God die uitdagings moedig te pak.
Die woord in Romeine wat in Afrikaans met aanvaar mekaar vertaal word, het ’n baie dieper betekenis in die Grieks, naamlik om ’n ander persoon toegang tot jou hart te verleen. Hierdie gedeelte in Romeine help ons dus om te verstaan dat hoop nie iets is wat ons vir onsself sal soek in dié tyd nie, maar dat ons God se hoop vir ander sal wees. Dit is daar om gedeel te word! Ons word geroep om mekaar te aanvaar soos Christus ons aanvaar het, om hoop te bring soos Hy hoop gebring het, om vrede te wees vir ander soos Hy ons vrede is. Mense moet hoop hoor, voel en ervaar as hulle aan ons dink. Is jy die hoop vir ander?
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Sasolburg-Suid
