Psalm 130

Hierdie skuldbelydenis hou rekening met die omvang en erns van sonde. Sterk metafore beklemtoon die magteloosheid waarin gelowiges in hul eie sonde vasgevang word. Hul magtelose krete klink op na God, soos dié van drenkelinge wat wegsink in die dieptes. Geen mens kan self versoening met God bewerk nie. Sonde vervreem ons so van God dat ons van die lewe self vervreem word. As God boonop ons sonde sou straf, wie sou dan enigsins kon bestaan? Die retoriese vraag roep uit: Niemand nie! Daarom roep die gelowiges na God. Net God kan red! Net God kan vergewe. Net God kan versoening skenk en lewe herstel tot sy ware wese en ons tot ons ware self. In die Ou-Testamentiese kultus het vergifnis gekom nadat ’n offerdier in die plek van ’n sondaar gesterf het. ’n Lewe vir ’n lewe…

Ook ons stel ons vertroue op die Here, maar dan omdat sy Woord van vergifnis vervul en gespreek is op Golgota: Dit is volbring! Daarom bely ons ook: By die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. Die offer is gebring. Een Lewe vir ons almal. Eens en vir altyd.

Die gevaar is dat ons die mag en omvang van sonde kan onderskat, ook die vervreemding wat dit kan bring tussen ons en God, en dat dit ons skei van ons ware menswees. Ons kan ook ons eie potensiaal om betroubaar te leef oorskat, en ons vasdraai in ons onvermoë en gewaande trou. Voor ons ons kry, sink ons weg in die donker dieptes van eiebelang. Onthou, by Hom is daar vergifnis, is die verlossing seker. Roep daarom tot die enigste Redder. Roep met vertroue: Leeg, net met my sondelas, hou ek u verdienste vas…

Gesang 239: 1-4

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link