Jakobus 4: 7-10
Met die lees van hierdie gedeelte moet ons onthou dat die Jakobus-brief geskryf is aan ’n gemeenskap van, vermoedelik, Joodse Christene wat gely het aan geestelike onvolwassenheid. Hul woorde bely dalk dat Jesus Christus hul Here en Verlosser is, maar hul dade doen dit nog nie. Daarom moedig Jakobus hulle aan om hulle aan God te onderwerp. Die wonderlike is, hy gee aan hulle ’n belofte dat wanneer hulle tot God nader, God tot hulle sal nader.
Natuurlik hoor ons Paulus in ons gedagtes sê dat dit die Heilige Gees is wat ons lei om tot God te nader, maar dit is ook steeds ’n geloofskeuse wat ons moet neem. Indien ons God naby en teenwoordig in ons vreugdes en vrese wil beleef, moet ons tot God nader. Dit klink amper asof Jakobus hier ’n eenvoudige waarheid stel, waar gesê word dat almal wat hul rug op die Here draai, gaan sukkel om die Here se hand in hul lewe raak te sien. Maar almal wat na God draai, en hulself in verhouding met God deel maak van die koninkryk van God, gaan meer en meer beleef hoe God deel van hulle is. Hierdie gemeenskap het opgekyk na die welgesteldes, en Jakobus waarsku hulle daarteen. Welgesteldes maak vinnig staat op hul welstand, in stede van God, en fokus ook meerderwaardig op ander, in stede van nederig op God. Daarom noem Jakobus dat dit nie welstand is nie, maar God wat jou sal verhoog, indien jy nederig bly.
Miskien het ons ook al toegelaat dat ander dinge, plekke, gedagtes, begeertes of selfs mense ons harte besmet en sodoende ons ook hoogmoedig laat word. Dan is Jakobus se brief ook vir ons bedoel en pleit dit dat ons weer ons harte sal suiwer, en tot God sal nader. Want dan sal ons ’n merkwaardige eienskap van ons Skepper se verhouding met sy skepping beleef met God wat ons nader, verhoog en vervul terwyl ons bid: Nader, my God, by U.
Ds Schalk Zastron, Ermelo