Lukas 10: 1-20

Ons lees in vandag se gedeelte dat die Here 72 ander dissipels gestuur het met ’n opdrag. Hulle moes gaan na die dorpe wat die Here nog wou besoek, met ’n baie dringende boodskap. Hulle moes verkondig: Die koninkryk van God het naby gekom…

Ons het hier met die missio Dei, of God se sending na die mens, deur die mens, te doen. In die lig van Matteus 28: 19 – Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het – kom ons as gelowiges weer sterk onder die besef van Jesus se opdrag aan ons om gestuurdes te wees.

Maar ek wonder tog: Is ons regtig ’n gestuurde kerk, gestuurde gelowiges? Ons is veronderstel om dit te wees, maar ek is nie in my hart oortuig dat ons altyd as gestuurdes leef nie. Die rede? Ons het so gewoond geraak daaraan dat iemand anders dit moet doen. Die dominee, die kerkraad, iemand, enige iemand… Nogal treffend dat Jesus 72 ander dissipels uitstuur. Nie die 12 nie, 72 ander.

So is ons ook gestuurdes wat moet uitgaan en die evangelie moet verkondig. Nie noodwendig deur van huis tot huis te gaan en te preek nie, maar met ons woorde en dade van elke dag. Deur barmhartig te wees soos Jesus barmhartig was. Deur lief te hê soos Hy ons liefgehad het. Deur te vergewe soos Hy vergewe het. Ja, deur die manier waarop ons voor en teenoor ander mense lewe en optree. Ons moet dit doen met dieselfde erns waarmee die 72 dit moes doen.

Is jy bereid om as gestuurde die evangelie deur jou lewe te verkondig?

Here, gebruik my as u gestuurde. Amen.

Ds Willem Sauer, Waterberg

af
af
Deel met behulp van
Copy link