Lukas 16: 19-31

Die gelykenis van die ryk man en Lasarus word dikwels verstaan as dat dit vir ons iets vertel oor die lewe na die dood. Lasarus sterf, en gaan “hemel” toe (’n ereplek by Abraham), en wanneer die ryk man sterf, eindig hy op in die “hel” (hy word gepynig in ’n verskriklike vuur).

Dit is egter nie wat hierdie gelykenis wil sê nie. Die gelykenis vertel van ’n ryk man en ’n bedelaar, van iemand wat baie gehad het en van iemand wat niks gehad het nie – van iemand wat oorvloed gehad het, en vir wie dit niks sou gekos het om die een by sy deur te versorg nie. Dit is hoekom Lasarus, wanneer hy sterf, by Abraham opeindig, by die persoon wat in die Bybel voorgehou word as die beste voorbeeld van wat gasvryheid beteken (kyk Gen 18). Die ryk man, daarenteen, eindig waar niemand hom versorg nie. Hy is alleen, met niemand wat hom kan help om sy dors te les nie. Die rolle is dus nou omgekeer. Die een binne die huis met baie om te eet, lê nou voor die hek, en die een wat voor die hek gelê het, is nou versorg in die huis.

Wat het hierdie gelykenis met die opstanding te make? Alles, veral wanneer ons mooi na Paulus in Romeine 6: 4-14 luister. Deur ons doop het ons spreekwoordelik gesterf saam met Christus, en is ons saam met Hom opgewek. Nou is ons nuwe mense, mense wat elke deel van ons liggame in diens van God stel om te doen wat God wil (Rom 6: 14). Wat wil God? Dit wat die gelykenis ons wil leer. Ons moet ander versorg, deur onder andere gasvry te wees waar en wanneer ons kan. Ons moet die hek oopmaak vir die een wat buite is. Dan is ons kinders van Abraham, kinders van God.

Nuwe mense leef nie soos die ryk man nie. Nuwe mense is ryk in wat hulle aan ander doen. Nuwe mense maak die hek oop. Hoekom? Want hulle het saam met Christus gesterf en saam met Hom opgestaan. Daarom leef hulle anders. Want hulle luister na die woorde van Moses en die profete.

Prof Ernest van Eck, Emeritus/Kanada

Share via
Copy link
Powered by Social Snap