Johannes 10: 4-5

Die herders van die Midde-Ooste gebruik vandag nog hierdie manier van skape lei. Daar is vele verhale van troppe wat by dieselfde put drink. Wanneer die herders weer verder gaan, volg die skape die regte herder net op grond van sy stem wat hulle roep.

Vandag is ons oorval met stemme wat ons aandag soek. Om elke hoek en draai roep mense met die hoop om gehoor te word. Dit raak moeilik om in hierdie kakofonie gefokus te bly op die stem van die Herder vir wie ons wil volg. Daarom is dit meer as ooit belangrik om seker te wees van hoe Christus se stem klink.

In hierdie Opstandingstyd berei Christus ons voor om sonder Hom voort te gaan. Hy leer ons hoe om sy weg te vind en hoe om sy stem te herken wanneer ons Hom nie meer sien nie. Die kenmerke van sy stem is liefde, vergifnis, deernis. Wanneer ons geroep word en sukkel om agter te kom waar sy stem vandaan kom, meet ons die stemme wat ons hoor daaraan, ten einde vas te stel of dit aan hierdie eienskappe voldoen.

Indien ons wat ons hoor as sy stem kan identifiseer, volg ons dit en nooi ons ander om saam met ons hierdie stem te volg. Dit is waarvoor Christus ons voorberei en dit is die opdrag wat Hy ons gee. Die opdrag om sy stem te volg, sluit in om mense te nooi om Hom saam met ons te volg. Maar dan moet hulle Jesus se stem herken in die wyse waarop en die woorde waarmee ons met mense besig is. Daarom die vraag: Hoor die mense wat jou teëkom liefde, vergifnis en deernis wanneer jy met hulle praat? Nooi jy mense met Jesus se stem wanneer jy hulle nooi om Hom saam met jou te volg?

Ds Dewald Kruger, beroepafwagtend

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link