Genesis 32 (AFR2020)
Belydenis van ’n volwassene: Ek sit alweer in die dieselfde ou stryd, met myself, elke keer as ek in ’n nuwe en onbekende milieu is. Ek ervaar ’n vorm van isolasie, ’n alleenheid in die gestoei teen die onbekende. ’n Teenkanting wat ek maar so alleen aanvoer teen ’n uitdaging, of ’n gebeurtenis in my lewe. Namate ek ouer word, raak ek die isolasie en die stryd gewoond, tog bly elke aantog pynlik.
Jakob in stryd, in worsteling met ’n man, word op die heup getref. ’n Stryd wat hy deurvoer tot dagbreek toe. Jakob, ’n man wat naamloos deur die laaste paar jare voor hierdie gestoei gedrentel het. Wie se naam al weerhou is, wat die naam van sy broer gebruik het om sy pa Isak te kul, wat vlug, wat weggeslaaf het oor jare heen. ’n Alleenheid in elke stryd.
Vir Jakob is die probleem nie om nog ’n antwoord te kry vir sy uitdaging nie (dat sy broer op pad is na hom met 400 man). Nee, vir Jakob het dit tyd geword om homself in die oë te staar. Homself te sien as onveranderd in sy hardkoppige (dalk lafhartige) karakter en ’n besluit tot nederigheid en oorgawe aan God te maak. Wanneer die man Jakob konfronteer met die vraag Wat is jou naam? (vers 27), kan Jakob vir die eerste keer met eerlikheid, kwesbaarheid, antwoord: Jakob. In een oomblik ontvang Jakob nie net ’n nuwe naam nie, maar ook betekenis. Hy gaan nie meer weghardloop nie. Hy gaan nie meer swig nie. In ’n oomblik van oorgawe aan God word Jakob erken vir wie hy is.
’n Nuwe visie vir volwassenheid: Ek vul my dae met waardevolle gesprekke, deurdagte besluite, in afhanklikheid van die Heer, my Lewendmaker, my Weg en my Waarheid. Die Heer is met my in my donkerste uur, ook in my verganklikheid, maar Hy is met my. Nou is ek nie méér in staat om my uitdagings te oorkom nie, maar eerder meer gewillig om my Here met my gestoei te vertrou.
Dr Pierre Jacobs, Gaborone