Lukas 1: 26-38

Josef het geglo genade skep lewe. Hy het getrou met Maria en haar lewe vir haar só teruggegee. Josef was toe ook reg oor genade. Die engel groet Maria met Begenadigde. Dit is met genade dat lewe begin. As Maria gestenig sou word oor die vermoede dat sy ontugtig was en buite die eg swanger geraak het, sou sy haar ook nie tot die beskikking van die Here kon stel nie. Haar Kindjie, Jesus, is toe wel gebore, want sy het toegelaat dat God haar liggaam gebruik na sy wil. So was Josef ook genadig.

Josef besluit om ten spyte van wat die wet van hom vereis, die lewe te kies. Maria kom tot die gevolgtrekking dat begenadigde onmoontlik kan beteken dat God met haar kwade bedoelings het. Só begin Jesus se lewe. Josef en Maria neem besluite wat weerspieël dat hulle genade verstaan. Jesus behou die lewe sodat Hy gebore kan word. Hulle doen wat genade vra. Natuurlik was dit God se besluit dat Jesus gebore sou word. Sy genade het die deurslag gegee! Dit is waar, maar God het ook nie vir Josef óf Maria gedwing nie. Dít is wat ons van Kersfees moet weet. Ons besluite het gevolge, nes dié van Josef en Maria. Hul besluite het gevolge gehad wat hulle hulself nie eens kon voorstel nie. Net so beïnvloed ons denke en besluite nie net ons eie lewe nie, maar ons almal s’n. Ons besluite kan oorlog saai, of vrede maak.

Josef en Maria se besluit om genade te laat seëvier, het hulle met mekaar laat trou. Hulle het hul Kind saam grootgemaak. Hul besluit laat ons nou feesvier. Weet ons wat ons in hierdie tyd vier? Is dit nie die dag toe Jesus met God se genade hier aangekom het nie? Genade, wat die lewe sedertdien nog altyd die regte betekenis gee. Genade skep lewe. Dink jy na oor genade? Laat jy toe dat dit jou besluite beïnvloed? Lewe Christus daarom in jou?

Gesang 325

Ds Jacques Pieterse, Laer Suidkus

af
af
Deel met behulp van
Copy link