Matteus 7: 21-23

’n Mens kry dikwels die indruk dat vir sommige bloot die gebruik van die Here se Naam die waarborg is van hul geloof. Soveel te meer wanneer dit vroomklinkend gebruik word. Ons lewe in ’n tyd waarin daar soveel hulpmiddele is wat die uitdra van die evangelie maklik maak. Die hele wêreld is in ’n oogwink bereikbaar deur die internet, Facebook, WhatsApp, en nog baie meer. Eintlik het jy net ’n selfoon nodig om toegang tot al hierdie hulpmiddele te kry. So word ons gebombardeer met boodskappe van mense wat in die Naam van die Here allerhande uitsprake maak. Baie daarvan is verskriklik opportunisties en vergesog. Tog slaag dit daarin om mense te verwar en te laat twyfel, of met oorgawe oorboord te laat gaan.

Dit lyk my hierdie verskynsel was nog altyd aan die orde van die dag, ook in Jesus se tyd: Nie elkeen wat vir My sê: “Here, Here,” sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie… Dit sluit aan by die gelykenis in Matteus 21: 28-32 van die twee seuns waar die een sê hy wil nie in sy pa se wingerd gaan werk nie, maar toe later spyt gekry het en wel gaan werk het, teenoor die ander een wat gesê hy sal en toe nie gedoen het wat hy belowe het nie. Die doen is nie noodwendig belangriker as wat gesê word nie, maar die doen bevestig die waarheid van wat gesê word.

Is die uitdryf van duiwels en die doen van wonders in die Naam van die Here dan nie ook ’n daad nie? Natuurlik kan dit wees, maar Jesus het dit teen vertoon en geykte formules wat gebruik word en die klem wat val op die persoon wat dit doen, in plaas daarvan dat dit gewoon deel is van God se genadehandeling met mense. In die konteks waarin Jesus hierdie vermaning gebruik, gaan dit oor die gees van die Woord en nie oor die letter daarvan nie. Dit gaan in die eerste plek oor God en nie oor die mens nie.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link