Matteus 7: 21-23

Mense vind dit soms baie maklik om hul optrede te regverdig. In die Naam van die Here mag ons ander oordeel as hulle volgens ons oortree. Want dan profeteer ons mos in die Naam van die Here. In die Naam van die Here kan en moet ons ander se sonde uitwys. Want dan dryf ons mos die duiwels uit ons gemeenskap uit. En in die Naam van die Here mag ons ander kragtig teengaan wanneer hulle nie wil dink en doen soos ons nie. Ons doen dit immers in die Naam van die Here, en ons weet mos wat die waarheid is en wat reg en verkeerd is.

In Matteus 7: 21-23 sê Jesus dat Hy nie belangstel in wat mense in sy Naam doen as dit wat hulle doen sonder die liefde geskied nie. Om te profeteer is goed, selfs om wonders te doen en duiwels in sy Naam uit te dryf, maar nie as dit uit selfsug is, die wet van God oortree (Matt 7: 23) nie. Want dit wat uit selfsug gedoen word, is selfliefde, het die eie ek lief, en kan nooit die koninkryk dien nie.

Elke godsdienstige daad wat nie ’n uitdrukking van die goue reël van liefde is nie, is niks werd nie. Dit sê Jesus, dit is hoe Hy waarsku. Die pad waar ek so leef deur aan ander te doen wat ek sou wou hê hulle aan my moet doen, is inderdaad nou. Die breë pad is baie makliker, daar waar ons van ander verwag om ons te behandel soos ons graag wil hê, maar ons ander behandel soos ons dink hulle verdien.

Woorde en dade moet ooreenkom. Woorde in die Naam van die Here wat seermaak, kom nie ooreen met die wet van God nie. Sonder die liefde is ons niks, en sê die Here Hy ken ons nie.

Prof Ernest van Eck, Universiteit van Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link