Markus 1: 16-20

Ons lees in hierdie gedeelte van die roeping van die eerste dissipels. Die Here loop langs die See van Galilea en roep dan vir Simon, wat later Petrus genoem word, en Simon se broer Andreas. ’n Entjie verder roep die Here die broers Jakobus en Johannes.

Daar kan dalk geredeneer en selfs geargumenteer word oor die Here se keuse van dissipels. Ons sou kon verwag dat die Here geleerde en gerespekteerde mense sou kies om sy dissipels te word. Ons sou kon verwag dat mense met goeie agtergronde, geloofskennis en status gekies word. Maar wat ons lees, klink byna na presies die teenoorgestelde. Die Here kies eenvoudige mense. Die Here kies mense met twyfelagtige agtergronde en beperkte status. Die Here kies onder andere vissermanne, mense wat nie die hoogste status gehad het nie. Mense wat die see en hul skuite geken het, maar nie akademies geleerd was nie. Mense wat eintlik randfigure in die samelewing was.

Die Here roep hierdie mense en betrek hulle by die koninkryk van God. Hierdie mense het saam met die Here gereis. Hulle het die wondertekens gesien. Hulle kon luister na die gelykenisse en vra na die betekenis daarvan. Hulle het deel van die kern van ons geloof geword.

Die feit dat die Here gewone mense kies om saam met Hom te werk, bring ook vir my en vir jou die geleentheid om met vrymoedigheid na die Here te gaan – om in oorgawe te glo en deel te wees van die Christelike geloofsgemeenskap. Dit maak nie saak wat my agtergrond is nie, ook ek word deur die Here geroep. Ook ek mag in geloof deel wees van die koninkryk van die Here.

Gebed

Here, dankie dat ook ek welkom is om na U toe te kom. Dankie dat ook ek deel mag wees van u koninkryk. Dankie vir u genadige liefde. Amen.

Ds Michael A Müller, Klerksdorp-Wilkoppies

Share via
Copy link
Powered by Social Snap