Psalm 124

Hierdie pelgrimslied val eenvoudig daarmee weg om God te dank met ’n besonder passievolle erkenning van God se hulp. As die Here ons nie gehelp het nie, dit moet Israel bely… Die Psalm beskryf dan hoe vyande hulle aangeval het en hoe God hulle gehelp het. Op sterk grafiese wyse beskryf die digter wat die vyand met hulle sou gedoen het. Soos ’n mitiese seemonster, sou die vyand hulle verslind het. Hulle sou wees soos iemand wat skielik deur die vloedwater van ’n rivier weggevoer word. Beelde wat dui op ’n katastrofiese einde. Sonder God sou hulle dood gewees het. Hierdie wete van wat met hulle sou gebeur het as God nie ingegryp het nie, help die volk om die volle omvang van God se hulp en redding te verstaan. In hul hulpeloosheid erken hulle die almag van God en hoe belangrik dit is vir hul redding en voortbestaan.

Hierdie besef van hul eie nietigheid en God se almag bring die volk by die punt dat hulle nie anders kan nie as om God te prys. In vers 6 sien ons hoe die vyand hierdie keer met wilde diere vergelyk word wat hul prooi verskeur, maar God was daar vir hulle. Die digter gebruik in vers 7 die beeld van ’n voël wat uit die wip van die voëlvanger gered word! Weer beklemtoon die digter die hopeloosheid van hul situasie, maar God het die wip gebreek en hulle bevry.

In ons lewe beleef ons ook daardie oomblikke wanneer alles te veel raak. Tans beleef ons nog die gevolge van die virus wat verlede jaar die wêreld feitlik tot stilstand gebring het, wat ekonomieë verwoes en mense se lewens stukkend gebreek het. Wanneer ons so na ons werklikheid kyk, was daar menslik gesproke geen hoop nie, maar God los ons nie alleen nie. Hy is daar vir ons, ook met vandag se uitdagings.

Ja, ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Ons hulp kom van Hom wat nog dieselfde God is as die God wat in hierdie Psalm geloof word.

Ds Willem Sauer, Waterberg

af
af
Deel met behulp van
Copy link