Johannes 3: 1-21

In vandag se Skrifgedeelte lees ons van Nikodemus. Nikodemus was ’n gesiene man in Judea. Hy was ’n lid van die Joodse Raad en ’n Fariseër. Maar in Nikodemus sien ons ’n ander tipe skrifgeleerde as die ander Fariseërs waarvan die Evangelies vertel. Nikodemus kom in die aand na Jesus toe. Hy vra geen vrae nie, maar hy weet dat Jesus iemand spesiaal is. Sy nuuskierigheid oor hierdie Man dryf hom daartoe om nadere ondersoek in te stel.

Waarom kom Nikodemus in die aand? Waarskynlik omdat hy bang was dat hy aansien sou verloor as iemand sien hy kom spreek Jesus. Nogtans kom hy na Jesus toe ten spyte van die sosiale gevare. Hy nader Jesus en erken dat Jesus ’n bekende leermeester is en dat God Hom bystaan om wondertekens te doen. Christus begin dan ’n gesprek waarvan die tema uit die bloute kom. Hoe kan iemand weer gebore word? Nikodemus verstaan glad nie, maar Jesus maak duidelik dat dit die werk van die Gees alleen is.

Die gesprek sluit af en ons hoor nie of Nikodemus die antwoorde ontvang het waarvoor hy gekom het nie. Maar as ons gaan kyk na Nikodemus se lewe, kan ons sien dat die Gees in hom gewerk het. In Johannes 7: 50 lees ons hoe Nikodemus die Fariseërs teengaan en daarop aandring dat Jesus ’n reg het op ’n verhoor. En hoe hy ná Christus se kruisiging in Johannes 19: 39 vir Josef van Arimatea gehelp het om Jesus te begrawe.

Die Gees van die Here het gewaai en hierdie huiwerige nagdissipel verander in iemand wat, trots voor die hele volk, vir Jesus bystaan. Iemand wat nie omgee oor sy sosiale status of wat hy kan verloor as hy vir die Jesus-saak staan nie. Baie van ons is ook maar huiwerige nagdissipels. Maar mag ons ook weer ons nuuskierigheid oor Christus herontdek, en Hom gaan soek in sy Woord. Dan sal die Gees al meer in ons werk, sodat ons ook soos Nikodemus helder oordag, voor almal teenwoordig, Christus se saak sal dien.

Ds Willem Dreyer, Groot Marico

Share via
Copy link
Powered by Social Snap