Johannes 1: 1-5

Die teksgedeelte sluit aan by God se eerste woorde in die Bybel. Dit is woorde van hoop: Laat daar lig wees! (Gen 1: 3). Selfs in die donkerste en mees chaotiese tye van die lewe, is God steeds teenwoordig. Dit was nog altyd so. Sonder God se voortdurende en kreatiewe betrokkenheid, sou die lewe totale chaos en duisternis gewees het. Jesus Christus se koms na die wêreld het hierdie boodskap opnuut bevestig. Met Jesus Christus se geboorte, sterwe en opstanding het God weer eens ’n nuwe begin met sy skepping gemaak.

Vandag sit God sy skeppingswerk voort deur die Bybel en maak Hy steeds mense se lewens nuut. Die Bybel is God se Woord. Deur die Bybel bereik God se boodskap van hoop miljoene mense in hul eie taal oral in die wêreld. Wees dankbaar dat jy ’n Bybel in jou eie taal het. Daar is egter nog iets om oor dankbaar te wees. Jy is ook deel van die veel groter prentjie van die verspreiding en verkondiging van God se Woord wêreldwyd.

Soos Gesang 488 dit so treffend verwoord: Helder skyn u lig vir die nasies, ’n vreugdeglans om die mense te verlig tot die hele wêreld kan sien U is die lig. Mag u lig, Heer, deur óns skyn. Heer, u Woord gee hoop aan die nasies; ’n hartvol hoop om die volke te verbly tot die hele wêreld kan glo dat U bevry. Mag U hoop, Heer, deur óns gee.

Moet dus nie vandag leef asof dit jou laaste dag is nie. Leef asof dit jou eerste dag is. Leef met hoop. Want God sê vandag ook vir jou: Laat daar lig wees!

Dr Gerhard Lindeque, Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link