1 Tessalonisense 5: 14-24

Dit is deel van grootword dat ons dinge en omstandighede op die proef stel. Ons almal het al verskeie kere in ons lewe dinge probeer en besluit of dit goed of sleg is. Dit is egter geen geheim nie, dat baie mense ’n verwronge idee het van wat goed of sleg is.

Ek bevind my soms in omstandighede waar mense vir my ’n drankie aanbied met die skuilwoorde: Dominee, die Bybel sê mos: Beproef alle dinge. Hierdie stelling, met ’n glimlag, ken ons, en baie van ons het dit al self op ’n grappende wyse gebruik. So asof alles in die lewe getoets moet word. Die ligsinnigheid van so ’n opmerking maak dat ’n mens dinge nie te ernstig beoordeel nie.

Die dissipline wat Paulus voorstel, strek egter veel verder. Dit is belangrik dat ons nooit vergeet nie wat Paulus werklik bedoel het toe hy gesê het:   maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is (vers 22). Ons moet besef dat Paulus nie bedoel het dat ons alles op die proef moet stel nie, maar eerder om binne onsself die gees van onderskeiding te vind. Die Heilige Gees is daar om ons te lei. Ons moet bereid wees om te luister na almal, maar die Heilige Gees te vertrou om ons rigting te gee oor of dit goed of sleg is. Paulus roep ons op tot nugterheid oor die dinge waaraan ons onsself blootstel. As Paulus van ons vra om dinge te beproef, bedoel hy eerder dat ons die voorreg het om die Heilige Gees se werking te vertrou. Ons moet dit nie onderskat nie, en dit moet deel word van ons daaglikse omgang met alle mense.

So, wanneer ons vandag uitgaan, roep die Woord ons op om alles te beproef, nie net deur ’n blote instemming met alles nie, maar deur alles te onderskei volgens die werking van die Heilige Gees.

Ds Juan de Beer, Parys

Share via
Copy link
Powered by Social Snap