Psalm 139: 13-15
Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het. Ek prys U omdat ek op ’n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde (AFR 2020).
Dawid illustreer in hierdie bekende gebed die kontras tussen donker en lig. Hier bestaan pragtige woordspeling tussen figuurlike donkerte as die uitdagings in die lewe, soos hopeloosheid of uitsigloosheid. En dan woordspeling met letterlike donkerte soos wat Dawid beskryf as die donkerte diep in die moederskoot waar niemand kan sien nie. Natuurlik het die mense van die Bybelse tyd nie die gevorderde mediese wetenskap gehad van sonars om ’n baba voor geboorte te kon sien soos ons vandag nie – vir hulle was dit ’n onbekende (letterlik donker) wêreld van bestaan.
Interessant word melding gemaak dat God spesifiek die mens se “niere” geskape het. In die Ou Nabye Ooste is die mens se niere beskou as die setel van die emosies. Later lees mens in Psalm 139: 23 dat God die mens se “hart” ondersoek, waar dit weer in hul leefwêreld verstaan is as die setel van die mens se denke. Ons is terdeë bewus dat beskrywing van donkerte of lig in ons lewe deur ons denke en emosies waargeneem word – iets wat God “wonderbaarlik” geskape het.
Maar in hierdie donkerte spruit God se lig. In die donkerte van die moederskoot waar niemand kan sien nie, begin die wonder van lewe. Dan bely Dawid ook daarmee: In die donkerte van sy eie lewe, in die donkerte en uitdagings en skynbare hopeloosheid wat die lewe bring, kom God en Hy alleen kan lewe skep waar daar donkerte is. God alleen kan lig bring daar waar ons sou sê net donkerte heers.
Hierin lê ’n besonderse belydenis: God skep lig en lewe in die mens se donkere bestaan. Mag dit ook ons gebed en belydenis wees. Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam
