Psalm 123

…ons het meer as genoeg gehad… Meer as genoeg van siekte, finansiële moeilikheid, geweld, korrupsie, vals nuus, leë beloftes en dom besluite. Meer as genoeg doodsberigte, begrafnisse en trane. Ons het al meer as genoeg gehad. Genoeg is genoeg!

Psalm 123 begin met ’n enkeling wat tot die Here bid met die uitroep dat hy opsien na God wat in die hemel heers. Pelgrims wat só op reis was na die tempel in Jerusalem, het met die verwagting gegaan om God in die tempel te ontmoet. Hierdie pelgrim wat op pad was na die tempel in Jerusalem, kyk egter op na God wat uit die hemel heers! Die 2020 Bybelvertaling sê: U wat in die hemel woon. Hierdie pelgrim weet God is nie in die tempel waarheen hy op pad is nie, maar God woon in die hemel.

Op hierdie gevaarlike pad na die tempel van God in Jerusalem, kyk hy op na God wat in die hemel woon. God wat in die hemel woon en uit die hemel heers, al is daar gevaar. God heers, al kry die pelgrim swaar. God heers, al is daar ellende. God heers, al is sy mense platgeslaan.

Dan praat die hele pelgrimskonvooi, die volk van God. Hulle erken: Ons is afhanklik van God, soos ’n slaaf afhanklik is van sy eienaar: Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm (Ps 123: 2, AFR1983).

Op hul gevaarlike reis na Jerusalem en die tempel kyk hulle met afwagting na die hand van hul Eienaar vir versorging, beskerming en uitkoms. Dan volg ’n interessante woordjie: totdat. Ons oë is gerig op God totdat Hy hom oor ons ontferm. Die 2020 Direkte Bybelvertaling sê: …totdat Hy ons genadig is. Dit praat van geduld, afwagting en verwagting.

Ons wag op die Here. Ons wag op die Here se ontferming. Ons wag op sy uitkoms.

Ds Kobus Celliers, Brits

Share via
Copy link
Powered by Social Snap