Genesis 1 en 2

Die eerste 11 hoofstukke van die boek Genesis word beskou as ’n inleiding tot die res van die boek, eintlik tot die hele Bybel. Die twee skeppingsverhale aan die begin speel ’n belangrike rol in Israel se geloofslewe.

Van die skeppingswerk van God word gesê dat dit goed was. Die res van die hoofstukke vertel egter verhale van die mense se ongehoorsaamheid en eie-ek-optrede. Dit skaad hul verhouding met God, maar telkens breek God se genade vir hulle weer deur. Dit loop uit op die begin van ’n nuwe verhaal as God met Abram (hoofstuk 12) ’n verbond sluit.

Die verhaal van hoofstuk 1 dateer uit ongeveer 500 jaar voor Christus toe Israel in Babilonië in ballingskap verkeer as gevolg van hul ongehoorsaamheid aan God. (Lees hoe Ps 137 hul hartseer verwoord.) Hulle word gekonfronteer met die baie ouer skeppingsverhale van die vreemde godsdienste wat verkondig dat die skepping die daad van die vreemde gode is. Verder word dit ook van hulle verwag om as oorwonne volk die vreemde gode van die oorwinnaar te aanbid. Maar dan die kragtige getuienis van hul geloof in God: Die Here ons God is die skepper van hemel en aarde! Die verhaal loop uit op die sabbatdag wat nie afgesluit word met die woorde dit was aand en dit was môre nie. Die mens aan wie God ’n besondere plek in sy skepping gee, leef vanuit die verbondsgenade van God. Die skepping as liefdesdaad van God, vertel die verhaal van God se genade wat dwarsdeur Israel se geskiedenis loop en deur die genadeverbond aan hulle bevestig word – die Here is hul God, hulle is sy kinders!

Ook die nog ouer skeppingsverhaal van Genesis 2 bevestig God se genade aan die begrensde mens (lees weer Ps 8: 6, 7) – God maak hom medeverantwoordelik vir die skepping en deurbreek sy eensaamheid (Gen 2: 18). Dit is ook ons troosverhaal! Jou doop is die teken dat jy in Jesus Christus deel het aan die genadeverbond en God se kind is. 

Ds Japie Coetzee, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link