Kolossense 1: 11; 2 Petrus 3: 8-9

Geduld is ’n afgeskeepte vrug van die Gees. Ons haastigheid gaan nog ons ondergang beteken! Jy ly aan haastigheid as jy gedurig vrees dat daar nie genoeg ure in die dag is om alles gedoen te kry nie. En dan doen ons alles vinniger. Ons slaap minder; eet vinniger; praat vinniger; ry vinniger. Ons haat dit om te wag.

In die supermark vang ek myself dat ek vlugtig vasstel watter kasregister se ry die kortste is, en ek tel sommer ook die items in elke trollie. Ek vermenigvuldig die aantal items met die aantal klante in elke ry, en deel dan die antwoord deur die waarskynlikheid dat hulle met kontant of met ’n kaart gaan betaal. En as ek ’n ernstige graad van haastigheid het, kyk ek stip na die een wat ek sou wees in die ander ry, en as hy nog wag nadat ek klaar betaal het, wel, vatso, ek wen! Maar wee my as die ander ou al uitstap en ek wag nog… Erg ongeduldig – die kos moet vinniger gaar raak, my e-pos moet dadelik beantwoord word, die bouprojek moes gister al afgehandel gewees het…

Haal diep asem – want elkeen wat ongeduldig geraak het in die Bybel, het verkeerde besluite geneem. Abraham het ongeduldig geraak toe die belofte van ’n kind nie waar word nie, en met ’n slavin getrou. Moses moes met ’n rots praat, maar raak ongeduldig en slaan die rots met sy kierie. Saul raak ongeduldig en bring ’n brandoffer in Samuel se afwesigheid; ensovoorts.

Ag, Here, hoekom is ek so gemaak? Nee, ons is nie so gemaak nie. As ons ongeduldig gebore is, sou ons niks kon leer nie. Dit vereis geduld om te leer kruip, en loop, en praat, en lees. Dit vereis geduld om te groei! En ons groei steeds tot die laaste dag van ons aardse lewe. God is nog elke dag besig met ons elkeen. Hy neem geduldig sy tyd. Dit sal ’n blye dag wees as ons besef dat ons nie regeer word deur ons horlosies en kalenders nie, maar deur God.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

af
af
Deel met behulp van
Copy link